‘n Rede om te glo

Emelia van Elliot vertel:

Elvis Blue sing:

Elke mens het ‘n storie

Elke mens het seer

Ek was al heel verlore in die wind en donkerweer

My wildernis was groot en my beursie leeg

Toe gee jy my ‘n rede, ‘n rede om te glo.

So dikwels in ons gejaagde lewe, lewe ons net vir onsself. Ons is ongeduldig met mense rondom ons of sien hulle nie eers raak nie.  So ons sien nie die mens raak nie. Ons is blind besig in ons eie ‘”rat race.'”

Met die talle padwerke en padstoppe word ons geduld tot op die uiterste beproef en die arme mens wat die padstop beman is ons maklikste teiken. Hulle word uitgeskel, lelike tekens gewys en soms selfs met klippe bestook, want hulle ‘”vertraag'” ons in ons resies…. Maar sien ons hulle ooit raak as mense wat wind en weer  en mense trotseer, ‘n mens wat ook ‘n huis, ‘n familie, ‘n storie het?

Watter beeld dra ons na hulle uit. “wildernis en donkerweer”  of “‘n rede om te glo”?

Ds Thomas van Elliot het besluit om tog die Kersfees ‘n bietjie “glo” aan die mense uit te dra. Omdat hy elke Sondag die pad tussen Elliot en Indwe moet ry en deur die padstoppe geraak word, het hy die week aan elkeen by die padstop ‘n koeldrank en ‘n Bybel gegee.  Elkeen se reaksie was verskillend, sommige het aan lag gegaan, ander was skaam, maar die een reaksie het dieselfde gebly:'” Ndiyabulela. Ek is dankbaar.'”

Mag ons ook in ons feesseisoen, maar ook daarna vir mense “‘n rede om te glo” wees.

 

NGK Vanstadensrivier

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (of Twaalf Artikels) lui soos volg:

  1. Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde
  2. En in Jesus Christus, Sy enig-gebore Seun, ons Here;
  3. Wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria:
  4. wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  5. wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  6. wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
  7. van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
  8. Ek glo in die Heilige Gees.
  9. Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  10. die vergewing van sondes;
  11. die opstanding van die vlees;
  12. en ’n ewige lewe.

Moderator lê selfdegeslagbesluit uit

Nadat dat die Algemene Sinode sy 2016-selfdegeslagbesluit geneem het, ‘n u-draai in reaksie op die 2015-besluit, is wyd gevra wat die besluit beteken.

In die eerste punt word gesê: “Die Algemene Sinode besluit om die saak van selfdegeslagverhoudings met groot omsigtigheid te benader en om nie standpunte op gelowiges en gemeentes af te dwing waarvan die Gees die gemeentes nie oortuig het nie.”

Verder word duidelik in punt 4.4 gesê die algemene sinode “herbevestig dat die huwelik deur God ingestel is as ’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap buite so ’n vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie.”  Daarmee is die 2015-besluit omgekeer.

In ‘n video wat deur Kerkbode vrygestel is, verduidelik die moderator, ds Nelis Janse van Rensburg, “gemeentes moet steeds met liefde omgaan en hulle eie oordeel, soos die Gees hulle lei, gebruik.”

Hy verduidelik verder die kern van die besluit handel daaroor dat seksuele omgang tussen man en vrou slegs in die huwelik hoort. Verder behandel die besluit die gesag van die Bybel, mense se gelykwaardigheid voor God, en gemeentes se diskresie wat die ampte van die kerk betref.

Klik hier om Van Rensburg se verduideliking te sien. Die volledige teks van die 2016-besluit is ook beskikbaar.

 

Wat maak van ’n man ’n man?

Image

Stephan Joubert van eKerk sfryf in Goeie Nuus soos volg:

My oupa het gesê jy’s nie ’n man voordat jy ’n bok geskiet het nie. Op varsity het een student gesê jy’s eers ’n man as jy ’n drankbottel se prop platgetrap het en die inhoud in jou keel afgegooi het. Die beste antwoord op die vraag: “Wat maak van ’n man dan ’n man?” is Genesis 2:4b–25. Dit vertel die verhaal van God wat ’n mens (adām in Hebreeus) gemaak het. God noem hom egter nie van die begin af ’n man nie, maar ’n mens! Ons hoor ook waarvan hy gemaak is: bogrond, (adamah in Hebreeus). Gelukkig het God darem sy asem op die mens geblaas, anders was hy slegs ’n hopie bogrond. God se lewende asem is steeds die verskil tussen grond en menswees!

Nadat God die mens geskep het, het Hy aan hom ’n wonderlike werk gegee. Hy moes God se tuin oppas. Toe sê God in Genesis 2:18: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak om hom te help, sy gelyke.” Vir die eerste keer hoor ons iets is nie goed nie, naamlik die mens se groot alleenheid. Daarom het God die mens diep laat slaap en uit sy ribbebeen ’n vrou gemaak. Toe die mens wakker word. roep hy uit: isjah! Oftewel: vrou! Sy helper en gelyke het uiteindelik op die toneel verskyn. Toe gebeur daar nog ’n wonder — vir die eerste keer in Genesis 2 word die mens ’n man genoem. Die Hebreeuse woord vir man is isj! (Amper soos eish!). Let wel, dit word eers gehoor nadat die vrou op die toneel gekom het.

Daar het jy dit dus — God se definisie van ’n man is ’n mens wat ’n lewenslange helper, ’n vroulike pasmaat vir homself gekry het! Jy word dus regtig eers in God se oë ’n man as jy die vrou van jou lewe raakloop! Dan verander jy daar op die plek vanaf ’n blote mens na ’n man. Dan is jy volledig ’n mansmens! Dan is jy daar waar God jou wou gehad het. Ware sielsgenote wat mekaar voor God vind, weet vandag nog hulle het net daar ware liefde en blywende geluk gevind. Net daar word ’n mens ’n man en ’n vrou word op haar beurt die perfekte helper! Dan kleef en leef hulle aan mekaar vas. Dan kom alle ander aardse verhoudings voortaan tweede. Hulle huwelik is dan die heel hoogste en mooiste verhouding, want dit is daar waar die Paradys steeds is. Daar bruis hemelse geluk en lewe.